Posts Tagged ‘Neef’

Maak reg dié kak, is my credo.

April 17, 2013

ImageEk is getroud met een van die oulikste vroue in die wêreld.

Sy is kort, het ‘n vinnige humeur en ‘n selfs vinniger hart vir liefde, omgee en vriendskap. Sy kan almal laat welkom voel, ryk en arm, baie praters en min praters, leke en akademici, heiden of gelowig… Sy het eenvoudig die ‘knack’ om mense te laat welkom, tuis, gemaklik en aanvaar te laat voel. Ongeag wie, wat, waar en wanneer. Haar geheim, so het ek agter gekom, is om eenvoudig te wees. Nee, nie ‘common’ nie. Eenvoudig soos in eenvoud. Sy praat eenvoudig, sonder fênsie woorde en leestekens. Sy tree eenvoudig op, sonder pretensies en voorgee. Sy is wie sy is, soos sy dit is. En so hanteer sy mense ook, eenvoudig en sonder voorrang, met genade, vreugde en vrede.

Sy hou my op die aarde. Veral as dit by praat kom. Soos in woorde praat. Ek praat predikanttaans en nie rég nie, meen sy. Daarom sal sy my gedurig herinner om reg te praat, met die regte stemtoon en die regte woorde. Nie soos ‘n dominee met ‘n sekere stemtoon (wat dit ookal mag wees) en hogere woorde nie. Jy’s net ‘n mens, wees een!, seg sy gedurig.

So was dit aan die begin van ons bymekaarkom. Vandag gebeur dit al minder, maar tog wanneer nodig. Ek like dit van haar. Ek haat ook predikantaans, of kanseltaal of wat-jy-dit-ook-al-wil-noem. Ek hou van mense wat eerlik en reguit hulle sê kan sê. “Sê wat jy bedoel en bedoel wat jy sê”. 

Nou vir die storie:

Gister maak ek die volgende opmerking op my FB muur: “Die ironie met die bomontploffings in Amerika is darem te skreiend om te mis: Daar word gevra: hoe kan so iets met ons gebeur, dis vreeslik!; terwyl Amerika byna daagliks ander mense met bomme bestook – in verre lande en dmv afstandbeheer – en talle onskuldiges se dood veroorsaak…
Violence begets violence…”

‘n Paar mense like dit en een of twee ander los kommentaar. 

Neef Dirk stuur gisteraand vir my ‘n boodskap. Dit lees: “Broer, lyk my jy het behoorlik die wapenrusting aan, vandag.

Fok, Ou. Ek is GATVOL vir die kak wat vir ons gevoer word. Die hele dikbril dogtertjie, wat eintlik ‘n seuntjie is, is so ‘n sprekende voorbeeld daarvan.

En die bliksemse onskuld van die wereld se westerse regerings, waarin,almal glo, maak my nog befokter! Ek kan gil!

Die blerrie Amerikaners moet ophou bid en iets doen. Ons is die liggaam van Christus, wat die kak moet doen. Self regmaak. Self. Jou vinger krap jou poephol as hy jeuk. Bid dat dit saggies moet weggaan of krap hom en kyk wat meer effektief is.

Die Messias reken, gaan kuier vir die ou in die tronk. Nie bid vir hom nie.

Maak reg dié kak, is my credo.”

Neef Dirk is een van daardie mense wat die waarheid só raak kan vat. So presies soos wat dit bedoel is. Sonder tierlantyntjies. So mooi in die eenvoud daarvan. Ek ken ook ‘n ander Neef wat die waarheid so kan raakvat. Jesus.

Ek sit vanoggend en lees deur Sy storieboek. Ek probeer preekmaak vir Sondag. Dit kan soms ‘n proses wees want die stories in hierdie boek kan soms die waarheid diep wegsteek en dus moet jy soek en krap en grawe. Maar nie altyd nie…

In die versameling stories wat ene Matteus geskryf het oor die lewe van die Ander Neef, kry jy ‘n paar versies wat presies dieselfde sê as Neef Dirk: Moenie net bid nie – doen! (Matt. 7:7-12).

Daar is talle mense wat nou vra dat ons moet bid vir die slagoffers van die Boston-bom. Ek trek ‘n gesig en trek my skouers op: Dis soos om aan tafel te sit en te bid: ‘Heer wees met/ dink aan die minder bevoorregtes’, en dan val ons weg en eet en drink en kuier lekker. Geen meer gedagtes van minderbevoorregtes en stink, vuil kinders onder brue nie. Daar is geen fout met die wegval en eet en drink en lekker kuier nie, maar wat sal dit van jou en my wegvat as ons so nou en dan na die gebed, opstaan, die kos vat en vir iemand anders gaan gee? Dat hulle pense kan vol kom en ons s’n leegbly? Of wat sal gebeur as ek die kos in die bakke, in die kar laai, die borde, eetgerei, wynglase en die wyn saamvat en saam met die mindervoorregtes gaan feesvier. Lekker skaapboud, patats, rys, gravy-sous, en kraakvars-groente? En malva-poeding en baie custard?

Moenie net bid nie – doen!

“Maak reg dié kak, is my credo” – Neef Dirk.

Myne ook! Wat is joune?

 

* Die foto is van ‘n brons beeld deur die beeldhouer Timothy Schmalz. Die beeld staan voor die Regis College in Toronto, Kanada. Dit is die “Homeless Jesus”. Twee katedrale het geweier om die beeld naby die kerke te laat aanbring. Dit is te skokkend het hulle gesê.