Vinkel en Koljander (die een is soos die ander)?


roadrageEk en my vrou het ‘n ooreenkoms wanneer ons saam in die motor klim, oppad iewers heen: Ek mag vir die eerste 20 minute geen woord praat nie. Dis nogals ‘n slim ene, aangesien ons teen die einde van die 20 minute gewoonlik al uit die dorp en op die langpad is. Die oorsprong van hierdie ooreenkoms van ons, is my geweldige humeur in die verkeer. Ja, ek ly geweldig aan road rage. En daarom ook my familie, want ek ek aan die gang is, gaan dit moeilik om my te keer.

Hoekom word ek so geweldig kwaad? Daar is wette en reëls tov padgebruik, en ek strip heeltemal my watsenaam wanneer ander mense nie daarby hou nie, veral as dit my reis belemmer of vertraag of op enige manier daarmee inmeng. Ek is die ou wat my woede wys deur die toeter met die vuis te slaan, briek te trap en stadiger te ry, sodat ek heerlik woes kan beduie en my woorde stadig en duidelik kan vorm sodat ieder en elk kan liplees wat presies ek die oortreder toesnou. Woede, haat, onvergewensgesindheid, totale liefdeloosheid, strafgerigtheid en geheel en alle onchristelikheid, straal uit my uit. En hoekom nie? Hy het die wet oortree, ek nie! Hy moet gestraf word! Waar is die verdomde polisie?! Doen ook nie hulle werk nie, iemand moet hulle aangee!

Daardie 20 minute ooreenkoms het nie net my huwelik gered nie, maar ook my kakebeen en my ego.

Ek dink die laaste ruk heelwat oor hierdie dinge: Is wette magteloos? Sommige sal antwoord dat wette beslis nodig is, dit help om ‘n mate van beheer uit te oefen oor mense en die lewe. Tot ‘n sekere mate is hulle dalk reg, maar op ‘n ander vlak moet ek erken, ek is nie so seker nie. Ek dink wette se mag is baie meer beperk as wat die normale man op straat dink. Wette kan op geen manier verhoed dat hulle oortree word nie. Daar is altyd iewers ‘n persoon wat ‘n wet oortree, genuine. Ook ons, ek en jy. Nog nooit gelieg nie? Nog nooit iemand anders bedrieg nie, nie eers baie lank terug nie? Nog nooit gesteel nie? Nog nooit nie dood gestop by die stopteken, nie? Het wette dus mag? Nee! Wat maak dat ons by hulle hou – of dan ten minste by die meeste van die wette hou? Ons ingesteldheid, nie waar nie?

Ek hou by die padreëls omrede ek lief is vir my gesin (en my beursie). Ek moor en roof en verkrag nie want ek beskou myself as ‘n vredeliewende mens. Ek wil in ‘n vreedsame en beskaafde omgewing woon en werk en kinders grootmaak. Ek gun ander dieselfde tipe lewe as wat ek vir myself toewens en daarom hou ek myself by bepaalde wette en reëls. Dis ‘n gesindheid-ding.

Jesus het iewers iets te sê gehad oor hierdie ding van wette en gesindhede (Matt. 5:17-18). Gesindheid lê wyer en sny dieper as enige wet. Dit vra meer, en gee meer. ‘n Beker kan slegs van binne oorloop. Paulus het iets hiervan gesnap, ek dink. Hy reken dat wette gevaarlik is, want dit maak dood. Gesindheid is goed, sê hy, want dit bring lewe. Wette wil vingerwys, skel en straf. Gesindheid wil verstaan, vergewe en versoen.

Deur ander ouens wat die padreëls oortree en my reaksie daarop, besef ek hoe lang pad ekself nog het om te stap tot die regte gesindheid. En hoe kom ek daar? Deur “12 stappe tot ‘n verbeterde gesindheid” te volg? Moet ek die boekie “Learning to love people you don’t like” deurwerk? Sal dit help? Paulus praat van voorbeeld volg, die voorbeeld van Jesus. Die gesindheid van Jesus. Is dit maklik? Nee!, maar dis moontlik. Tree vir tree, situasie tot situasie, van val-en-opstaan tot weer-probeer, mens vir mens, wet vir wet, dag vir dag, padlangs.

En hoekom? Want ek glo (en weet) dat die lewe nie kom deur die onderhouding van wette en reëls nie, dit kom wanneer ek glo (en weet) Jesus se manier is die beste manier.

One Response to “Vinkel en Koljander (die een is soos die ander)?”

  1. Renier Lourens Says:

    Hierdie “blog” is reeds meer as 6 jaar gelede geskryf, maar nooit gepubliseer nie. Ek ontdek dit vandag weer, en publiseer dit toe sommer.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s


%d bloggers like this: