Onafhanklikheidsdag – is die mensdom werklik vry?


ImageEk wonder soms hoeveel mense nog ag slaan op die viering van hulle land se Onafhanklikheidswording? Hiermee bedoel ek nie die skiet van “crackers” en “fireworks”, die drink van groot hoeveelhede watookal, die dik etery aan braaivleis en bredies, nie. Ek bedoel: Hoeveel mense sit nog en dink waaroor dit alles werklik gaan?

Ek meen dat die doel van ‘n propperse feesviering juis dit is: om terug te kyk na waar mense was, na wat alles gebeur het en na hoe dinge uiteindelik uitgedraai het (beter natuurlik, anders was daar geen fees nie), én om in die lig hiervan natuurlik ‘n oog te gooi na die toekoms (met die hoop dat dit nog beter sal gaan). Nou staan my vraag steeds: Hoeveel mense staan ‘n paar oomblikke af aan hierdie gedagtegang?

Ek kyk nou die dag weer na die Amerikaanse fliek Independence Day. Die plot van die film is natuurlik nie iets unieks nie: “Aliens” val die aarde aan, opsoek na grondstowwe en ander minerale. Die nasies van die aarde – natuurlik onder leiding van die VSA, hoe dan nou anders? – staan saam en veg teen hierdie bedreiging uit die ruimte. Enkele minute voor duisende vegvliegtuie die lug in opstyg, lewer die Amerikaanse president – hoe dan anders? – self ‘n vegvliegtuigpiloot – hoe dan anders? – die volgende toespraak: 

“Good morning. In less than an hour, aircraft from here will join others from around the world. And you will be launching the largest aerial battle in the history of mankind. “Mankind.” That word should have new meaning for all of us today. We can’t be consumed by our petty differences anymore. We will be united in our common interests. Perhaps it’s fate that today is the Fourth of July, and you will once again be fighting for our freedom…  We are fighting for our right to live. To exist. And should we win the day, the Fourth of July will no longer be known as an American holiday, but as the day the world declared in one voice: “We will not go quietly into the night!” We’re going to live on! We’re going to survive! Today we celebrate our Independence Day!”

Hierdie woorde raak ‘n snaar in elkeen van ons se harte – veral ons hier in Suider Afrika. Die meeste van ons het ‘n stryd om onafhanklikheid beleef en ook ‘n onafhanklikheidswording. Ons het ervaar hoe ander feesvier en vreugdevol dans in die strate. Sommige van ons het self ook ywerig aan hierdie feesvieringe deelgeneem. Die vreugde en blydskap het gekom as gevolg van die bevryding uit jarelange onderdrukking en ongeregtigheid op vele terreine. Ja, apartheid het selfs blankes onderdruk en daarvan weerhou om ten volle mens te wees.

Op 21 Maart vier ons die onafhanklikheidswording van Namibië. Dié dag het plaasgevind in 1990. Hierdie jaar staan sommige van ons stil en dink aan wat was – ongeregtigheid, onderdrukking, vervolging, onteiening, die skending van menseregte, die vertrapping van menswaardigheid (dié van die slagoffers sowel as dié van die oortreders). Ons sal ook dink aan diegene wat moes prysgee, én aan wat hulle prysgegee het, in hulle stryd teen hierdie onreg. Ons sal dink aan hoe dinge nou, na 24 jaar, is in vergeleke met toé en ons sal ‘n oog gooi na die toekoms en droom oor hoe dinge nog kan wees.

Onafhanklikheid herrinner ons dat die stryd teen onreg en verdrukking, teen ongelykheid en diskriminasie nog lank nie verby is nie. Daar is steeds “outcasts”, steeds diegene wat ander uitbuit tot hulle eie voordeel, steeds plakkershutte, hongeres, armes en diegene wat geen heenkome het nie. Daar is steeds vroue-wat-hulle-plek-moet-ken, kinders wat mishandel word, mans wat sukkel om werk te kry, jongmense wat swak opvoeding en onderrig ontvang. Daar is steeds “weirdo’s” en LBGT’s wat skewe kyke ontvang en beskinder word agter langmou hemde. Daar is steeds één-waarheid-en-dis-myne gelowiges, konserwatief én liberaal. Daar is steeds slawerny en mensehandel, die verkragting van die aarde en die vermorsing van natuurlike hulpbronne. Daar is steeds verslawing en die verbruikerskultuur…

Die viering van onafhanklikheid bring ons daartoe om die realiteit in die oë te staar: ons is nog lank nie onafhanklik nie! Dis alles ‘n illusie, ‘n drogbeeld, ‘n leuen. Ons is vasgevang in die sleurgang van die mensdom se geskiedenis; ons maak oor en oor dieselfde foute. Ons verloor herhaaldelik die droom en raak die pad kort-kort byster.

Jesaja, en ook van die ander profete, praat en sing en demonstreer hoe die mensdom lyk, hulle hou ‘n spieël voor ons op: vuil, kaalgat, verlore, selfgerig en eiesinnig, dikpens geëet en draaikop gedrink, in die modder van die put wat ons self gegrawe het. Ons is die slawe van ons eie onvermoë om hoër te kyk, hoër te streef en om ‘n hoër bewussyn te ontwikkel. Daar is iets beter as dít, as hierdie plek en tyd. Hulle skets ‘n woord-prent van hoe dinge kan wees: water in woestynland, bome en wingerde wat buig onder vrugte, lande ruig van koring en gars, spiese en swaarde word ploeë en sekels, lammers en leeus wat saam in die koelte rus, bere, wolwe en beeste wat ‘n kraal deel, kinders en slange wat mekaar kielie en streel, mense wat partytjie hou in die lanings langs die fonteine… 

Ons kan onafhanklik wees!

Ons kan vry wees van oorloë, hongersnood en armoede. Vry van diskriminasie en onreg, van kompiterende gelowe en gemeenskappe, van homofobie en haat, van neersien op ander en op onsself, van luukse huise en plakkerhutte, van onderdrukking op grond van taal, kleur, geslag of seksuele oriëntasie. Ons kan vry wees om lief te hê, alles en almal. Ons kan vry wees om waarlik één te wees en ook divers! Sonder wapens en asblikke vol kos, sonder skewe kyke en selfvoldane beter-weterigheid, sonder oorvol tronke en leë magies, sonder dood-ryp-in-die-winter en kaalvoet in die skool, sonder dronk pa’s en huilende ma’s, sonder fok-off en voetsek, sonder….

As ons wil…

Ons ís hier, en ons mag hier wees. Die mensdom het soveel potensiaal; ten goede én ten slegte. Volgens die geskiedenis kies ons al ewig die slegte. Tog is daar deur die eeue telkens flikkeringe van hoop. ‘n Lig wat skyn in die duisternis. ‘n Lig van aanvaarding en vrede en saamstaan ter wille van die mensdom self. Ter wille van mense, individue. Ter wille van omgee en solidariteit.
Oomblikke van onafhanklikheid! Oomblikke waarin mense nie afhanklik is van hulle selfgerigtheid en ego nie. Oomblikke waarin die eie belang plek maak vir die behoeftes en gevoelens van die ander. Oomblikke waarin ooreenkomste belangriker is as verskille. oomblikke waarin jy en julle, ons en hulle saamsmelt in die eenheid en diversiteit van slegs ons. Oomblikke van onafhanklikheid…

Die profete gesels hiervan, ja. Jesus van Nasaret se woorde en stories skets die prentjie van sulke oomblikke van onafhanklikheid; Sy lewe wys hoe dit in praktyk lyk. Sy dood is ‘n voorbeeld van onbevange onafhanklikheid! 

Die mensdom het nog ver om te gaan, maar dit alles kan by jou begin – en by my. Vry van ander se sienings en kommentaar, menings en oortuigings; los van my selfgerigtheid en eie belang kan ek. Kan ons. As ons wil…

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , , , , , , , , , ,

2 Responses to “Onafhanklikheidsdag – is die mensdom werklik vry?”

  1. kanwilsal Says:

    Onafhanklikheid, wat n mooi woord. Baie state wat hul ontstaan eers in die laaste twee eeue of so gekry het vier n dag genaamd Onafhanklikheidsdag of iets in die lyn daarvan. Dit is n viering van die staat se ontstaansoomblik en het bitter min te make met enige verstaanbare konsep van onafhanklikheid. Met betrekking tot enige ideologie of staatsbestel is die groot vraag altyd: Is dit daadwerklik n oefening in selfregering? Nou dat ek daaroor nadink het die viering van hierdie tipe staatsvergoddeliking absoluut niks met onafhanklikheid te doen nie.

  2. Hendrik Duvenhage Says:

    Baie geluk met jou pos, ek erken dat ek nog beseig is om ‘n goeie aantal van jou plasings te lees. Ek wil net vir jou sê hoe goed jy is op die beskrywing van die dinge jou op blog – ek moet ook erken ek vind dit insiggewend om jou blog te lees. Hou aan met die goeie werk.Hendrik Duvenhage http://www.hendrikduvenhageblog.wordpress.com/

Kommentaar is gesluit.


%d bloggers like this: