Om te wil, of nie te wil nie…


Image 

Ek is mos nie ‘n ou wat sommer doen wat van my verwag word nie – bedoelende, ek hou nie daarvan om voorgesê te word nie. Ek hou nie van reëls en regulasies nie. Wette is nie vir my nie, en ek ook nie vir wette nie. Wette is wetters! Dis hoe ek voel. Mind you, dis hoe ek nog altyd gevoel het. Op ‘n stadium tydens my skoolloopbaan, het ek vir ‘n maand of drie in die koshuis gewoon. Ek is daaruit nadat my pa gesien het ek cope nie so lekker met die roetine nie. Nee, daar’s niks fout met dissipline nie, maar ek weier dat ‘n klok vir my vertel wanneer ek moet eet, stort, boekevat, slaap, opstaan, aantrek, eet en huiswerk doen. Of, hoe ek dit moet doen. Basta!

Ek het nog altyd geleef vanuit ‘n oortuiging. Of dit rugby was, of tennis, of krieket, of korfbal, of kuier, of swot, of trek, of bly, of vry, of… Ek het dit gedoen omdat ek uit my hart uit wou. Geen ander rede nie. Sou enige ander nodig wees? As jy dit uit jou hart doen, omdat jy regtig wil, dan doen jy jou beste en geniet jy dit die meeste. Eenvoudig, nê? En moenie kom met kamtig volwasse goed soos: sommige dinge moet mens maar net doen nie; daar is pligte om na te kom ook; mens het darem sekere verantwoordelikhede… Ek weet, en ek doen daardie dinge ook. Karwas, grassny, groceries-koop, die bad se rand was… Ek praat van belangrike dinge in die lewe doen. Dit wat die lewe, die lewe maak.

Uiteindelik was dit ook die geval met my geloof. Die dag toe ek die Here, spreekwoordelik, in die oë kyk het ek gesê: Ek wil dit doen omdat ek wil, nie omdat ek moet nie, nie omdat die samelewing dit van my verwag nie, nie omdat die dominee en die CSV onderwyser so mooi smeek nie. Nie om uit die hel te bly, die ewige verdoemenis vry te spring of om God tevrede te hou nie. Nee! Slegs omdat ek regtig wil. 

Ek leef uit oortuiging. Ek kan nie anders nie. Ek wil ook nie anders nie.

Miskien is dit hoekom ek so ‘n grief het in mense wat nie sê wat hulle bedoel en bedoel wat hulle sê nie. Damnit man, hoe moeilik kan dit tog wees? Of het jy nie die moed van jou oortuiging nie?

 Die onlangse debakel rondom die Kerkbode en sy nuusredakteur (wat ek as ‘n goeie vriend beskou), het opnuut vrae by my laat opkom oor die oortuigings waarmee die NGK doen wat sy doen. Wat leef in haar hart? As ek so deur haar verklarings, amptelike standpunte, belydenisskrifte en die Handleiding (Bybel) wat sy gebruik lees dan hoor ek wonderlike dinge. Ek hoor van liefde en vergifnis, van aanvaarding en uitnodiging, van onvoorwaardelike uitreik en nader bring, van gaan soek en vind, van ‘n pa wat elke dag turend na die horison wag vir sy seun. As ek so na haar handelinge kyk, ook na my eie ervarings met haar institusionele kant, dan wonder ek wat dit is wat haar dryf? Wat is haar oortuigings? Is haar God so goed as wat sy bely? Is sy aanvaarding van mense onvoorwaardelik? Vergewe Hy maklik of moeilik? Soek Hy na mense wat anders is? Staan Hy binne dansende verhoudings met mense of net met Homself? 

Waaruit leef my kerk?

Dit is maklik en soms lekker om so na die kerk vinger te wys en te skree: “Julle bliksems! Julle is so skynheilig soos die Fariseërs van ouds.” Dit is maklik om hartseer te raak oor haar en te wonder of ek nie dalk maar moet skuif nie, dat sy geen relevansie meer het nie en dat ander staan en lag vir haar. Hoekom dien ek haar God?

Staan ek soggens in die badkamer voor die spieel, is dit ‘n ander saak. Dan kyk ek myself in die oë en vra dieselfde vrae: Wie is jou God? Hoe lyk Hy? Is Hy vriendelik en verwelkomend? Is Hy oop en eerlik? Het Hy mense lief, trek Hy hulle nader, is Hy onvoorwaardelik in sy verlange na omgang met mense? Kan ander mense dit sien? Verstaan hulle hoekom ek dit doen? Hoor hulle dit, beleef hulle dit? 

Dan vra ek: “Wat is my ooruigings? Waaruit leef ek?  Hoekom dien ek hierdie God?

Dis moeiliker om vir jouself vinger te wys en te skree: “Jou bliksem! Is jy nie soms maar so skynheilig soos die Fariseërs nie?” Dis moeiliker om hartseer te raak oor my eie foute en om te wonder oor die relevansie van my eie oortuigings. Dis moeiliker om raak te sien of daar ander is wat vir my staan en lag.

PS: Peter Rollins is vir my ‘n inspirasie met die vrae wat hy vra. Hy sê oa: “If you want to know what you really believe, don’t listen to what you say, look at what you do.”

Luister self na hom, hier: http://www.youtube.com/watch?v=8h_5h4W26os

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , , , , , ,


%d bloggers like this: