Geloof soos visse


As kind, in die destydse Suidwes, was dit blote formaliteit dat ons oor langnaweke en tydens vakansies ons weg sou vind na die kus. Visvang was my pa se voorliefde en dus ook die gesin s’n. Ons het elke dag strand-op of strand-af gery opsoek na ‘n lekker gat waar ons seker was die vis sou byt.

Na ‘n lang dag in die son son en wind, met rooi gebrande nekke, voorarms en kuite is ons terug kamp toe vir vis-skoonmaak en ‘n lang koue bier. By die vis-skoonmaakplek, is stories van die dag se visvang gedeel met ander groot-storie-vissermanne. Op slegte vang-dae het die manne stil-stil teoriee uitgeruil. Teoriee wat vir my as jong seun te vervelig was om na te luister, veral as daar meisies in die omgewing was! Dit was baie jare gelede…

Vanoggend word ek wakker. Daar is ‘n mistigheid wat die nag effens langer laat vertoef, ‘n koel windjie beweeg lui-lui die tent se seile en ‘n vars see-reuk troetel my neus. Ek is by dieselfde kus. As 22 jaar gelede. Die see is dieselfde, ook die woestyn, die sand en die mense. Alles is net effe ouer. Ek ook. Daarom is ek nie hier vir girls, partytjie en skelm rook nie. Ek is hier om langs die water te ontspan met visstok in die hand en ‘n koue bier wat wag by die kamp. Dit is ook hoekom ek by die vis-skoonmaakplek uithang teen laatmiddag. Nee, ek het nie vis om skoon te maak nie, ek soek raad. Ek luister groot-oog na die groot-storie-vissermanne se suksesse. Hulle is egter min. Die vis is skaars en die stories kort. My vis het nog nie ingekom nie; ek luister meer na teoriee as stories. Ek soek vis!

“Julle gesien, daar was ‘n donker kol op die water? So ent agter die breekwater? Dan vang mens niks. Jy soek blinkwater!”, praat een met almal. “As die water die lyn sooo trek, sommer die kant toe en die sinker en aas in vlakwater uitspoeg, dan… dan kan jy maar los”, gesels ‘n ander in die wind. ‘n ‘Ouman’ skud sy kop: “Nee manne, nee. Die gat moet diep wees, ‘n sandbank aan beide kante met stillerige water in die duinings en groen-blou met ‘n sandjie in die voorwater. Dan vat jy pilchard en gooi om centre want daar, net daar staan die steenbrasse op hulle neuse… So amper laag-gety se tyd.” So gaan dit vir lank aan, elke man het sy eie teorie, sy eie geloof en bygelofies, sy eie dingetjies wat vir hom werk. Die gesprek is twee biere oud toe ek myself verskoon om te gaan vuur aansteek en te gaan wyn skink sodat ek die gesels kan oordink en dit wat vir my sin maak, my eie kan maak om more te sien of dit vir my ook werk.

So by die vuurtjie raak ek en ene Koos Gas aan die gesels. My tent, eintlik syne vir my gebruik, staan op ‘n onderdeel van sy kamperf. Ons deel dus ook die vuur, die vleis en die kampbestuurder se rooster. Elk geval, ons gesels: Vreemd hoeveel teoriee en planne en gelofies en dinge daar is, as dit kom by visse. Ek is nie regtig ‘n see-visserman nie, ek like die varswaterhengel-ding en verkieslik met vliegies. Daar is maar net soveel teoriee aan die neef van see-vang ook. Ons lag en deel wat ons hoor by ander langs die water, by die visskoonmaak, in die kroeg… Dis darem snaaks, ja.

Later, toe die kole mooi rooi gloei en die kinders al gaan inkruip het, raak ons ook effe bedees. Ons dink, elkeen by homself. Oor die see, die vis en geloof. Ons erken met woorde, kopknikke, en hmm-en-ha’s dat die mens nou maar eenmaal so is. So gemaak en laat staan is. Ons luister en deel en vra uit. Ons gee menings, opinies en as dit nie anders kan nie dan gee ons sommer voor dat ons oor ‘n bepaalde saak menings en opinies huldig. Ons neem so tussendeur alles ook elke mening en opinie, elke stukkie raad en wysheid, in oorweging. Ons bedink dit en besluit dan wat sin maak en wat nie. Dit wat sin maak gaan probeer ons uit, in die lewe, om te sien of dit werk. Werk dit wel, dan word dit deel van ons eie wysheid; werk dit nie gooi ons dit summier in die asblik van nuttelose inligting wat hoogstens in vertellings gebruik kan word om ander se simpelheid bloot te stel.

Toe die laaste wyn in die glase val, kyk ons diep in die vuur en verklaar: Is die geloof nie maar ook so nie? Ons maak net erns met dit wat vir ons werk? Ons het elkeen maar sy eie bygelofies oor geloof, gebed, wonderwerke, beloning, straf, Jesus, God, die kerk, die duiwel, die aarde, die einde…

Deesdae is die in ding om die wat nie soos jy glo nie, uit te kryt as ongelowig, heidens en selfs as ketters. Hoekom? Langs die water is jy nie ‘n afvallige omdat jy met ander aas as ek vang nie.

Mag ons diè belanrike ding besef en in liefde uitleef: Elkeen het geloof, soos vissermanne, oor visse…

20121221-185043.jpg

Sleutelwoorde: , , , , , , , , , , , ,

One Response to “Geloof soos visse”

  1. Alta Says:

    Soos altyd geniet ek jou “storie” Moet nooit ophou skryf nie…..

Kommentaar is gesluit.


%d bloggers like this: