Ene Mouton se bees


ImageEk moet eerlik wees, ek het nooit gedink ek sal die dag beleef dat ‘n bees met my gesels nie.

Tydens ‘n kamp vir die predikante van ons ring, gebeur dit dat ons een oggend met Bybel in die hand die bosse instap. Tot bo-op ‘n rant. Daar word ‘n teks (dieselfde verse) aan elkeen gegee om te lees. Elkeen moet gaan stilword saam met God en die teks- aldus die opdrag. Na ‘n uur of so sal ons mekaar dan weer by die witgatboom ontmoet en ons insae deel; vertel wat God vir jou sê.

Ek kies koers teen die noorde kant van die rant af tot onder in ‘n droeë rivierloop. Ek wil ver van die ander weg, want ek wil rook en sommige van die ander ouens kan mens nogal intimiderend aan kyk, soveel so dat jy half skuldig voel oor jou swak gewoontetjie. Effe vuil, eenkant en skaam-sondig. Ek is ook nie lus vir Bybel lees nie.

Ek loop sit op ‘n klipbank onder groot bome wat oor die rivierloop hang. Dis koel hier in die skaduwee en rustig. Nie ‘n geluid nie, ook nie ‘n windjie wat roer sodat die blare en grasse kan ritsel nie. Ek steek ‘n Stuyvesant aan en lê gemaklik terug teen die klippe agter my. My gedagtes begin toe loop en ek wonder toe oor my skuldgevoelens rondom ander mense wat nie rook nie, veral Christene. En toe sommer nog verder oor die wingerd se sap waarvoor ek so lief is, die mooi wat ek in soveel vroue raaksien, die lekker lag vir ‘n raak-sê-storie wat die mensheid van ons almal in skurwe woorde blootlê…

In my enigheid ervaar ek geen skuldgevoel nie. Daar is wel ‘n effense ongemaklikheid wat hier neffens my kieliebak rondskuiwe – ongemak omdat ek soveel keer vasval in die gat van ander se verwagtinge. Hulle idees, prentjies en oortuigings. Ons leef mos maar almal onder hierdie byl wat oor ons koppe hang, nie waar nie?

Ons het almal idees wat ons lewenswyse bepaal: ons weet hoe ‘n suksesvolle persoon lyk, ons weet hoe lyk ‘n sexy meisie, ons weet hoe lyk die perfekte werk en bankrekening en kar en huis en hond, die heerlikste vakansie, die grêndste kinders en natuurlik weet ons hoe lyk en glo goeie Afrikaner Christene. Nê? En wat nou as ons idees nie met mekaar s’n ooreenstem nie? Wie s’n is reg, beter of meer waar? Hoe gaan ons dit uitmaak? Gaan ons hoegenaamd na vyf minute nog met mekaar gesels? En dit raak net moeiliker as dit later kom by die woordjies geloof en G(g)od en kerk en Christen. En nog moeiliker as ons gesels oor predikante en predikant-wees.

Ons kan verskil oor rugby, skole, vakansieplekke, karre, gholfbane, kinders grootmaak, wie is sexy en wie nie, in watter woonbuurt om te woon en waar om te belê maar as dit by daardie woordjies kom soos hierbo genoem, is daar perre! Skielik is daar gelowige en ongelowige, hel, hemel, straf, bok, skaap, draak, valse profete, dienaars van die duiwel en wat nog. Dan begin ons mekaar se integriteit ten opsigte van ons geloof en twyfels, ons G(g)ods-idees, Christenskap, ons redding en uiteindelik ook ons menswees in twyfel trek. En kort voor lank is daar vyandskap tussen goeie bure, mag kinders nie meer oor en weer kuier en speel nie, droog die uitnodigings na Saterdag se rugby kyk en braai op, verskuif een na ‘n ander kerk/gemeente, loop die skinderstories wyd en diep.

Dit is my bittere ervaring van predikant-wees, nee, van menswees binne predikant-wees. Elke ou en vrou daarbuite het ‘n idee oor ‘n predikant. Ek sê ‘n predikant, omdat hulle slegs hierdie een prentjie het waaraan hulle alle predikante meet. Gegewe hierdie prente is ingeburger in hulle verstand, versterk deur jarelange blootstelling aan predikante van weleer, familielede se geselsies en verhale oor wyle dominee so-en-so en lidmate se skeefgetrekte beelde van die gemeente se eie messias. Dominee mag nie rook nie, nie drink nie, nie lekker lag vir ou Koos-aah se raak-sê-storie wat die mensheid van ons almal in skurwe woorde blootlê, nie. Dominee mag nie die mooi in vroue raaksien nie, want wellus is ‘n slegte ding, veral vir dominees. Dominee mag nie eina bliksem sê nie, of ag fok as hy ‘n fout gemaak het nie. Hy moet heilig wees, opreg en rein, onbsmet en onbeskaamd, vlekloos en sondevry. Hy is die man van God, die Wegwyser na die hemel, die een wat ons die roede nie moet spaar nie maar ons moet kasty met sy Sondagmore-woorde van geregtigheid. As hy soos ons is, hoe sleg is ons dan nie?! Ons is in ons moer.

Die ergste is dat dit nie net lidmate, vriende en familie en die algemene samelewing is wat so dink nie. Daar is selfs predikante wat so redeneer en dink en glo en leef. Hulle is soos almal sê en hulle gee my sommer ‘n pyn in die gat. Hulle lieg!

Ek is erg bewus van my mensheid en menswees, soos ek in die koelte sit en die sonlig op my vel voel. Ek steek nog ‘n twak aan, vat ‘n sluk water uit die bottel en sê sommer so in die lug in vir myself: “Ek is nie lus vir Bybel lees nie”. Ek besluit om netnou vinnig die verse deur te gaan en dan myself uit hierdie oefening lieg deur te sê: “Ek hoor by die Here…”.

Want sê nou ek hoor nie! Dan wat? Dan wys ek dat die sonde en die vuilheid en die ellende my ingehaal en doof gemaak het vir die Almagtige se stem; ek is nie waardig nie!

Die klompie Afrikaner beeste wat al ‘n hele rukkie al weiende in die rivierlopie afloop, kom versigtig-stadig nader. Ek bly sit, uit nuuskierigheid vir wat hulle sal doen as hulle my opmerk. Stadig kom hulle aan, sleepvoet en lui in die oggend son, oppad water toe aan die onderkant van die rant. Hulle kom nader. Hulle hoewe maak dowwe plof geluide in die sagte sand. Dié wat effe hoër op teen die hang loop se hoewe klik-klak op die klippe. Een kom kyk my vierkant in die oë. Ek sê vriendelik, “More!”, en sy rittereer effens. Weer kom sy vorentoe. Die keer druk sy haar sagte nat snoet teen my arm. Die ander het intussen nader  gestaan en hulle kyk vir haar en vir my met groot oë aan. Dan begin almal weer rustig verder kou aan wat ookal. Party stap sorgeloos verder. Ander staan nog ‘n wyle en verkas dan ook rivierloop af. Die jonges kom ruik-ruik ook hier aan my broek en been, voor hulle aanstap om hulle dors te gaan les. Die oorspronklike neusdrukker staan nog hier naby my en eet. Sy kyk op, druk weer haar neus teen my arm en ek seg, “totsiens”. Sy loop agter die ander se stof aan opsoek na die nattigheid wat haar dors sal les. Terwyl hulle so ontspanne wegstap dink ek aan die lewe van ‘n bees: Hulle is maar net wat hulle is. Hulle kan nie iets anders wees nie, nie ‘n jakkals of ‘n luiperd of ‘n mens nie. Net bees. Met alles wat daarmee saamgaan, alles wat van ‘n bees ‘n bees maak. En dit is goed so, en mooi ook.
En dit is heel okay. Hulle hoef nie iets anders te wees nie.

Die neusdrukker gaan staan doer in die sand en sy kyk om, so vir oulaas. Ek sit in die oggendson, op ‘n klip, teen ‘n rant, iewers tussen Otavi en Otjiwarongo en ek steek nog ‘n Stuyvesant aan. Ek is mens. Met alles wat daarmee saamgaan. Dis al wat ek kan wees, ek kan nie anders nie. Ek wíl nie anders nie. Ek like dit. Dis lekker. Dit is goed so, en mooi ook. En dit is heel okay.

Ek hoor die ander bo-op die rant praat. Ek staan op en klim uit die rivierloop teen die rant op. Ons kry ‘n ent verder sitplek op die rotse van ‘n droë waterval, in die koelte want die son raak warm.

Dit is stil toe ek sê: “Ek hoor by die beeste…”

Sleutelwoorde: , , , , ,

4 Responses to “Ene Mouton se bees”

  1. Sam Heine Says:

    Skitterend gesê Renier. Wens ek was daar om dit te beleef.

  2. Cobus Says:

    Jy moet maar net aan die ring noem dat daar met jou gepraat is uit die eerste boek van die openbaring, dan quote jy NGB art 2 en vertel verder van die beeste 😉

  3. Alta le Roux Says:

    Hoekom het jy sooooooooo lank gevat voor jy weer geblog het. Jou storie is skitterend geskryf,soos altyd.

  4. Toortsie Says:

    Dis die deur wat blogging vir my oopgemaak het. Om dinge te noem soos ek dit sien, al is ek die enigste aweregse een in die wêreld. En dan kom ek agter daar is nog wat dit presies net so sien, maar ook nie die moed get om ‘n klein dreuningkie teen die donderweer te maak nie. Soms wonder ek of eintlik ALMAL nie is soos die “almal” wil hê ons moet wees nie?
    Dankie vir ‘n skitterende stuk.

Kommentaar is gesluit.


%d bloggers like this: