Ons krisis, ons eksperiment, ons vertroue…


Cobus Van Wyngaard skryf dat wanneer die kerk ‘n krisis beleef, die kerk in een van twee rigtings kan gaan: of ons trek laer, of ons kan iets kreatief na die tafel bring. Ons gemeente beleef tans so tipe krisis (Met krisis verwys ek egter nie na ‘n dreigende-lewe-of-dood-in-die-onmiddelike-toekoms tipe krisis nie; hoewel dit uiteindelik daarheen kan lei).

Ons gemeente is multi-kultureel en (hopelik binnekort ook twee-talig). Uit die geskiedenis en die ontwikkeling van Owamboland het dit so gebeur dat mense oor alle kleurgrense heen hulle oor die laaste aantal jare hier kom vestig het. Hierdie groep is natuurlik “non-indigenous” en oorwegend Afrikaans. Hulle kom vanuit alle denominasies en kerke en aangesien die NG gemeente Verre Noord die enigste Afrikaanse kerk met gereelde/weeklikse dienste is, woon hulle dit by.

Ons kan dus nie in alle eerlikheid sê dat ons ‘n NG kerk in de tradisionele betekenis van die woord is nie. Ons is nou ‘n inter-kerklike/-denominasionele gemeente wat ons skaar aan die kant van die Gereformeerde leer- en daarom ook deel is van die NGK Sinode van Namibië, waarbinne die oorsprong van die gemeente lê. Dit blyk geen probleem te wees vir enige van die ‘lidmate’ nie, aangesien almal dit so verstaan en respekteer en daarom ook die dienste bywoon. Dit blyk te wees dat dit vir hulle oor veel meer gaan as die denominasie/kerk.

Die huidige samestelling van ons gemeenskap en gemeente vereis egter dat ons anders moet dink as die normale NG gemeente: Hoe kan ons almal laat welkom en tuis voel? Op watter maniere kan ons almal ‘n ‘sense of ownership’ van die gemeente laat beleef? Hoe kan ons die eenheid tussen almal opbou en uitbou?

Wat ons natuurlik bring by die groot vraag: Hoe kan ons werkilik kerk wees binne hierdie unieke omstandighede? Waarop moet ons fokus?

Die gemeente voel sterk dat God besig is om met ons ‘n pad van ontdekking te stap. Ons moet ontdek wie ons binne ons konteks is, wat dit beteken om ons identiteit uit te leef binne ons gemeenskap- waaruit daar soms baie kritiek afkomstig is.

Ons het dus onlangs besluit om Padlangs, saam met God te stap en te kyk wat gebeur: Ons het afstand gedoen van die tradisionele konsep van die kerkraad en dit vervang met ‘n gemeentebestuur, sodat persone wat oorspronklik aan ander denominasies/kerke behoort daarop kan dien. Ons is in die proses om die pligte van diakens en ouderlinge aan die lidmate terug te gee- ons fokus sterker op die amp van die gelowige! Ons wil lidmate toerus om God te dien waar hulle woon en werk, en nie net in die eredienste nie. Ons wil graag God se koninkryk vestig in Owamboland op praktiese en sigbare maniere, deur lidmate en nie deur die kerk nie. Ons hoop is dat lidmate hulle gawes sal ontdek en gebruik en self bedieninge sal opdroom.

Ons is ‘n jong gemeente wat ook dra aan die las van finansiële onsekerhede. Ons het geen kerkgebou nie, geen eiendom behalwe die pastorie. Maar ons glo dat godsdiens juis dit is: diens aan God. En dit beteken diens aan ander! Daarom wil ons minder bekommerd wees oor ons eie/die gemeente se survival en meer fokus op die ver-realisering/verwerkliking van God se koninkryk vir ander.

Ja, daar is meer vrae as antwoorde. Daarom kan ons onderneming seker ‘n eksperiment genoem word, want ons het nie al die antwoorde nie. Ons try maar net gehoorsaam wees op ons gebroke en menslike manier. Ons is dit eens dat ons nie regtig weet of dit gaan werk nie, maar ons het ooreengekom om te probeer. Is ons bang? Ja! Onseker? Beslis!

Maar ons vat ‘n kans. Ons try, met vertroue dat God ons sal wys en dat ander ook saam met ons Padlangs sal stap. Ons vertrou dat meer positiewe as negatiewe hieruit sal kom, dat meer sal help as kritiseer, dat iets nuuts en kreatief hieruit gebore sal word…

Tot Sy eer!


%d bloggers like this: