Die dag toe ek ophou preek het…


Ou jaar, nuwe jaar is eintlik ‘n wonderlike tyd. Vir my. Eintlik hier van die vroeë middel Desember af.

Ek weet nie of ander mense deur hierdie bewegings van gedagtes en emosies gaan nie, maar ek doen wel. Dis asof my hele wese weet dat dit die tyd is van die begin van een of ander einde. Die ou jaar is op sy rug en die nuwe begin al byna skuins lê. Iets moet verander, wegkwyn, sterf. Iets moet gebore word. Jy ken daardie swaar swangerskapsgevoel van ‘n digter? Jy weet iets gaan gebeur, maar jy’s net nie seker wat nie. En jy sien uit daarna, want jy weet dit gaan die geboortepyne werd wees.

Dis al lank wat ek met die sekerheid binne my rondloop. Die sekerheid dat ek nie al die antwoorde het nie. En ook nie al die antwoorde hoef te hê nie. Ek’s rustig daaroor. Ek het jare gelede daarmee vrede gemaak. Ek praat van antwoorde in die algemeen, maar in die besonder van antwoorde oor die lewe, geloof en God.

Ja, ek het teologie studeer. Maar teologiese studies leer jou nie veel van God nie, wel van die ‘wetenskap’ aangaande die studie van die Bybel, godsdiens(te), sistematiese denke, die oorspronklike tale en dies meer. Maar van God self? Nie regtig nie!

Dis soos die hele debat in die Beeld oor gebed, http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Bid-werk-nie-se-dominee-20110228. Gisteraand sit ek in ‘n kleingroep en daar word oor die artikel en uitlatings gesels. Elkeen gee sy insette en die gesprek vloei gemaklik. Ek maak die uitlating dat daar nie eenvoudige en maklike antwoorde in die lewe is nie, veral nie oor God, die lewe en geloof nie- wat natuurlik gebed insluit. Die vraag wat na my kant toe kom is: “Dominee, hoe antwoord jy mense tydens berading?” Sien, mense is onder die indruk dat iemand die antwoorde het. Die dominee het mos geleer hieroor.

Ons leef in ‘n tyd en wêreld waar ons al hoe meer agterkom dat elke vraag, vir verskillende persone, verskillende antwoorde kan hê. Almal ewe reg, ewe gerustellend, ewe vertroostend, ewe geloofsopbouend, al verskil hulle. Want mense verskil! Elke persoon wat saam met God padlangs oppad is, se paadjie verskil van die volgende persson s’n. Ons is elkeen uniek, daarom ook ons pad saam God. Daarom ook ons antwoorde…

Antwoorde lê nie in dogma’s en belydenisse opgesluit nie (hoewel hulle belangrike riglyne is van waar ons kan dink en redeneer). Antwoorde is opgesluit binne verhoudings. Dis binne verhoudings waar ‘n mens kan redeneer, kan kwaad word, twyfel kan uitspreek, kan skree, kan huil, kan lag en vreugde deel. En uiteindelik ook antwoorde kan vind.

Antwoorde kan nie geleer word nie!

Antwoorde word binne verhoudings ontdek, beleef en gedeel.

Terug by die swangerskap gevoel van ‘n digter. Iets het verander. Iets het gesterf en weggekwyn. Iets nuuts is gebore. Ek het besluit om op te hou preek. Ek gaan versigtiger wees om te sê: “So sê die Here…” Ek wil eerder gesels. Ek wil hê mense moet weet ek het nie al die antwoorde nie; ek gee nie voor om al die antwoorde te hê nie. Ek is bereid om saam te reis, met God, myself, my gesin, gemeente en gemeenskap. Om in verhoudings te staan en saam te soek, saam te ontdek en te deel in die ervarings. Want ons is almal saam agter God aan, padlangs.

Ek vermoed die eredienste gaan nou  anders lyk en voel. Iets anders gaan gebeur. Die vraag is hoe, wat, wie en wanneer… En ons weet natuurlik waar die antwoorde lê?


%d bloggers like this: