Gesinwees = Kerkwees?


Snaakse ding gebeur die laaste tyd. Ek het nog altyd sterk gevoel oor hierdie saak, maar besef skielik dat dit miskien nie sterk genoeg was nie. Of dat ek my roeping iewers gemis het, of gewag het dat die tyd ryp word, of so iets…

Anyway, gesinne was nog altyd vir my baie belangrik. Genuine.

Snaakse ding gebeur die laaste tyd. Ek kry met al hoe meer ouers te doen wat my wil kom sien, of wat vinnig ‘n vraag my kant toe skiet, of wat actually by my huis opdaag. Oor hulle kinders…

Kinders het my nog altyd ge-fascinate. Dalk oor ek so baie dink aan my kinderdae en ervarings daartydens. Selfs toe ek kind was. Dalk oor ek op so baie maniere nog self kind is… Hoe werk hulle koppe? Hoe ervaar hulle die lewe en die dinge in die lewe? Hoe interpreteer hulle die wereld rondom hulle? Is dit hoekom hulle soms so weird kan wees? Of hoekom ons vir hulle so weird is? En alles soms vir my?

Ek het beslis nie al die antwoorde nie- indien enige?!

Wat my wel tref, soos my houtwerk-onnie se plank op my gat, is dat alle ouers – feitlik? – lief is vir hulle kinders. Dat hulle vir hulle die beste in die wereld wil en ook probeer om dit te gee.

Maar ook dat die generasie-gaping veel groter is as wat ons ooit kon besef. En dit gaan nie noodwendig oor ouderdom hier nie, maar wel oor die kennis en verstaan wat die een generasie van die ander het.

Dit lyk my dat die meeste van ons nie regtig leef met die bewustelike besef dat daar GROOT verskille tussen generasies is nie. Ons hoor wel mense uiter dinge soos: vandag se kinders… ; ons het anders groot geword… ; in ons tyd was dinge anders… Alles waar, baie waar. Maar wie gaan sit genuine en dink oor wat so pas kwytgeraak is?

Hoekom is dinge anders? Hoekom verskil hulle? Hoe verskil hulle? En is dit noodwendig ‘n slegte ding? Kan ons nie by hulle leer nie?

Ouers het kinders lief en kinders hulle ouers, en tog kom so min gesinne werklik oor die weg. Ek praat van genuine met mekaar klaarkom, op goeie voet meeste van die tyd. Nie net wanneer pa ‘n gunsie nodig het of sussie ‘n roomys wil he nie. Meeste van die tyd, is wat ek bedoel.

Generasies het eienskappe. Elke generasie het sy eie. En hulle verskil. Omdat die tye en omstandighede waarbinne elke generasie grootword, so drasties verskil. Drasties! En daarom verstaan hulle mekaar meer gereeld as nie, verkeerd.

Ek weet nie hoe jy oor sekere dinge dink en voel nie. Ek weet nie hoe jy die wereld, die lewe ens verstaan of interpreteer nie. Daarom verstaan ek ook nie jou optrede nie. En tipies mens, is jy dan stupid, weird en van die pad af terwyl ek reg is, beter as jy, vroeer volwasse en op die pad. Die regte een.

Maar jy voel dieselfde oor my, want jy verstaan nie hoe ek die wereld, die lewe ens verstaan en interpreteer nie.

En omdat ouers en kinders van verskillende generasies is, die eienskappe van generasies nie ken of verstaan nie, kom hulle nie altyd lekker oor die weg nie. Tree kinders op sekere maniere op want sekere dinge is vir hulle belangrik; nie dieselfde dinge as wat vir pa en ma se generasie van belang is of was nie.

Ek wil waag om te se dat ons meeste van die tyd verstaan, interpreteer en reageer soos die generasie waarvan ons deel is. Natuurlik is daar uitsonderings en hoef jy my nie toe te gooi onder voorbeelde nie, ek generalize so bietjie – ek moet om my punt te kan maak.

Die Boek vertel ons van die Een wat die Weg, die Waarheid en die Lewe is en vra ook dat ons Hom volg. Dat ons dissipels moet wees; dit is studente, skoliere, nabootsers, navolgers, na-apers. Dit veronderstel tog dat ons nie die waarheid, die lewe of die weg daarvan ken nie, reg? Dat ons nog moet leer en oefen?

Ook wat betref ouerswees en gesinwees?

As ons wil navolg moet ons dit seker verantwoordelik doen? Ook ouerwees en gesinwees?

Omdat ons die Lewe wil eer…

Kerk het te doen met menswees Coram Deo. Voor God. Ouerwees en gesinwees is sekerlik deel van menswees. Voor God.

Hoe betrokke is kerkwees en ouerwees en gesinwees met mekaar? Kort daar nie iewers iets nie? Mis ons nie iewers iets nie? Ek doen. Dit lyk my ander doen ook.

Is kerkwees nie familiewees en gesinwees nie? Is ons nie almal broers en susters van Hom wat die Eerste is nie?

Miskien moet kerkwees meer fokus op eenwees. Een gesin, een familie met een God en Vader van almal. Is ons nie almal ouers en grootouers en kinders en broers en susters van mekaar nie? Alles gelyk?

Is gesinwees nie kerkwees nie?

Miskien moet gesinwees meer fokus op kerkwees. ‘n Plek van aanvaarding, vreedsame verskille, vergifnis, handvat en saamstap. Een gesin, dissipels saam oppad in die spore van ons ouer Broer?

Ek is nie ‘n ouer nie, nog nie. Maar as die Lewe woord hou is ek binnekort, oor ‘n week of wat.

Ek het nie al die antwoorde nie – indien enige. Maar iewers in my groot en uitgebreide gesin is daar iemand wat weet. Wat al my padjie geloop het. Wat sal help en raad gee. Wat my sal tools gee om pa te wees. Wat saam my sal stap, Padlangs.

Miskien het ek my doel gevind? My roeping iewers langs die pad opgetel, verloor en nou weer gekry? Miskien is kerkwees vir my om ouer te wees vir my lightie.

En vir al die ander lighties en dogtertjies… En vir hulle ouers…

Miskien moet ons praat oor die gaps tussen generasies. Mekaar leer, lei en help. Ook in die kerk.

Miskien is my vraag oor ons amper-gesin se beroep na Oshakati, ook beantwoord. Miskien…

3 Responses to “Gesinwees = Kerkwees?”

  1. Magdaleen Says:

    Gesinne is die plek waar eerstehands leer wat jou waarde is – min of groot waarde en dit bepaal hoe jy met jouself en ander omgaan. Aanvaarding, respek, liefde is van die boustene. Ons buurman praat van navorsing: ‘n kind wat deur sy ma kerk toe geneem word het ‘n 15% kans om in die kerk te bly, deur pa 45% deur albei ouers 77% Daar is baie faktore wat ‘n rol speel. Die generasie gaping is een klein faktor – bo alles bly die ware LIEFDE die enigste ding wat alles override.

  2. Andrinie Says:

    Goeie dag, ek wil myself net kom voorstel, ek is nuut in die blog-wêreld.

    Elke inloer, kommentaar en ook opbouende kritiek, oor jy wou en nie moes nie, sal baie waardeer word.

    http://andrinie.wordpress.com/

  3. Lynnette Says:

    Ek dank God vir mense soos jy! Doodgewone mense wat ook maar sukkel om kop of stert uit te maak van wat in my kinders se koppe aangaan! Dankie!!

Kommentaar is gesluit.


%d bloggers like this: