Iewers in die gesprek met my belydenisklas kom die vraag op: “Wie van julle het slegte pelle?” ‘n Klomp hande gaan op. Eintlik is dit almal se hande wat opgaan en ek smile. Ek smile want ek kan sien, hier kom ‘n ding. Wat dink gaan kos en baie gesels. En amper net soveel wyn. En baie bid, om te verstaan.
Die volgende een is vanselfsprekend. “Hoekom is hulle sleg? Wat doen hulle?” Almal wil-wil gelyk praat. Ek kom agter, hulle is eerlik en opreg- soos net die jongklomp kan wees: Hulle vloek, hulle rook en drink. Hulle slaap rond…
Ek begin dadelik met myself ‘n gesprek (en hoop om dit hier voort te sit, so gee maar jou mening). Hoe meet ons mense? Wanneer is iemand werklik goed of sleg? Kan ons hoegenaamd die besluit op onsself neem? Ek ken baie mense wat “sleg” is, maar eintlik is hulle so goed. So genuine in hulle omgee vir ander. Ja, hulle vloek, hulle rook en drink en ja, party van hulle slaap rond, maar…
Ek ken ook “goeie” mense. Mense wat bykans geen drank gebruik nie. Niks. Hulle haat rokers en rook, is omgewingsvriendelik, hou altyd by die padreels, glimlag vir almal, skud blad en vra altyd: hoe gaan dit? Die Bybel is heilig en moet na geluister word, die kerk is goed en die dominee nice. Hulle slaap nie rond nie, maar…
Feit bly staan, daar is “goeie” mense en “slegte” mense daar buite. Wie is wie? Nee, regtig. Dink bietjie daaroor. Wie is werklik wie?
Ons meet mense met ons eie standaarde. Menslikes. En ek weet, ons almal weet eintlik dis nie hoe dit werk nie; dis nie reg nie. Maar ons hou daarmee aan. Ons ken die Sondagskool antwoord, maar ook net in ons koppe. Slegte mense is mense wat rook en drink en hoereer en drugs gebruik en vloek en lieg en… Noem maar op. Goeie mense is die mense wat nie daai dinge doen nie; of dit net min doen; of net goed genoeg kan voorgee dat hulle dit nie doen nie.
Ek ken slegte mense. Mense wat al die bogenoemde en nog wat doen, maar wanneer dit by omgee vir ander kom kan niemand by hulle kers vashou nie. Hulle het ‘n liefde vir mense, harte wat bloei vir ander se swaarkry, siele wat huil by ander se trane. Hulle gee en help en leef saam met die Stukkendes, die Eensames, die Hongeres en Armes. Hulle het selfs ‘n hart vir die Goeies! Kan jy glo?
Ek ken goeie mense. Mense wat glad nie die bogenoemde doen nie. Hulle praat nie eens daaroor nie, maar wanneer dit omgee vir hulleself kom kan niemand by hulle kers vashou nie. Hulle het ‘n liefde vir hulleself en hulle eie, hulle harte bloei vir hulle swaarkry, hulle siele huil by hulle eie trane. Hulle moet tog net nie stukkend, eensaam, honger of arm wees nie. Hulle het nie ‘n hart vir die Slegtes nie. Dit kan jy glo.
Feit bly staan, daar is “goeie” mense en “slegte” mense daar buite. Wie is wie? Nee, regtig. Dink bietjie daaroor. Wie is werklik wie?
Richard Dawkins is van mening dat omgee vir ander, eintlik ‘n evolusionere ding is. Ons gee vir ander van ons spesie om, omdat dit die voortbestaan van die mens verseker. Dit help ook dat ander dalk weer op hulle beurt na ons sal omsien. Survival instinct! Daarom is mense goed. Eintlik deel van die selfish gene. Ons het dus nie God nodig om goed te wees nie. Kyk hoeveel ateiste reik uit na ander wat in nood verkeer.
En hy’t ‘n punt beet. Nie die survival instinct deel nie- dalk tog?!. Maar daar is net soveel mense wat ander koelbloedig vermoor uit selfsug. Die punt wat hy aanraak is die vraag wat hy glo hy het beantwoord: Het mense God nodig om goed te wees?
Ek wonder: “Wat het die Fillipyn en die Amazone-Indiaan met my survival te make? Hoekom worry ek oor die ouens in Haiti wat onder die rommel le? Dalk het dit iets te doen met dit wat ons almal in gemeen het, mens-wees; my mens-wees? Dat ek na God se beeld geskape is, en hy ook? Dat wanneer hy seerkry, honger is, eensaam is en stukkend rondloop, God self ook seerkry, honger, eensaam en verwond is. En omdat God dit voel, voel ek dit ook?
Om Dawkins te antwoord moet ek ‘n vraag vra. “Staan dit God nie vry om ook ateiste te gebruik om vir mense te sorg nie? Al besef hulle dit nie. Al glo hulle nie in sy bestaan nie.”
Ons skep baie maklik die kategoriee van Goeies en Slegtes; gemeet aan menslike standaarde. Ek vra myself: wat het rook en drink en al die ander dinge te make met die raaksien van God se beeld in ander mense? Is dit werklik die dinge wat ons met blindheid slaan? Of is dit eerder ons eie reels en standaarde?
Het ons God nodig om aan ander goed te doen? Nee. Het ons God nodig om sy beeld in ander raak te sien? Ja. Beslis! En dan kan ons nie anders as om daarop te reageer nie.
Feit bly staan, daar is “goeie” mense en “slegte” mense daar buite. Wie is wie? Nee, regtig. Dink bietjie daaroor. Wie is werklik wie?
Is die Goeies nie dalk die wat tussen die rookwalms en bier, die vloek en die leuen die beeld van God in ander raaksien en dit dien nie? Is die Slegtes nie dalk die wat tussen mesgemaakte reels en standaarde verdwaal en die beeld van God in ander miskyk nie?
Ek wonder, so Padlangs, waar staan ek? Onder watter sambreel en opskrif? Ek wat so maklik die foute van ander kan uitwys en net so maklik al klaar weer kategoriee geskep het…
Sien ek God se beeld in ander?
February 22, 2010 at 8:35 vm |
Briljant!
Thanks Renier, ek sien altyd uit na jou
P *A *D* L* A* N* G *S……….
Jy MAG maar skryf hoor!
February 22, 2010 at 4:42 nm |
[...] Padlangs praat oor slegte pelle en goeie pelle. Of meer spesifiek, wat gebruik ons om te onderskei tussen goeie en slegte mense. [...]
February 22, 2010 at 8:27 nm |
Ek hoor Herriemerrie se stem, maar wonder tog.
Ek glo ons vraag is dieselfde: wat en wie is goeie mense? Ek het vanuit ‘n geloofshoek daarna probeer kyk op ‘n kritiese manier. Is dit die regte dinge doen, of veel eerder om verby die regte dinge te kyk en God in ander mense raak te sien?
Die gesprek is lank nie klaar nie. En dis goed so. En mooi…
February 23, 2010 at 7:20 vm |
Laat ek dalk begin om te erken dat ek nie ‘n vreeslike goeie Christen of selfs mens is nie. (
Ironies genoeg rook ek nie, drink minimaal en sit elke Sondag heelvoor in die kerk.) Ek probeer goed gewoonlik uit ‘n ander hoek as geloof beredeneer, hoewel die meeste van my waardes in Christenskap gesetel is.
Dit was die disclaimer. Wat vir my van jou post uitstaan is dat jy mense wat vol empatie is. Mense wat dus saam met ander kan voel en oor hulle bekommerd kan wees.
Ek sal ‘n goeie mense definieer as iemand wat altyd in liefde optree. Dit is ‘n stap verder as empatie. Dit is wanneer ‘n mens in liefde kan handel, veral as jy ALTYD in liefde kan handel, dat jy waarlik God se verteenwoordiger op aarde is. God is immers liefde.
Daar is ‘n liedjie wat se: Whatsoever you do to the least of my brothers, that you do unto me.