Boontjie kry sy loontjie – of nie?

“Wys jou net hoe diep is die hele verdienste-konsep by mens ingegrawe.” Ware woorde van ‘n pel van my, nadat ek hom vertel het hoe ek voel. Ook maar mens… Ekke.

My vrou is al ‘n maand lank in die hospitaal. Komplikasies met die swangerskap en tekens wil-wil wys dat die kind eerder vroeer as later sy opwagting gaan maak. Die koms van ‘n langverwagte kleintjie behoort begroet te word met opwinding, afwagting en smiles to match. Is mos?

Wel… Hoe kan ek dit sagkens stel? Ek is erg bekommerd, benoud en verward. Wat as die lightie eerder vroeer kom as later, soos wat dit lyk gaan gebeur? Wat van sy ontwikkeling en kanse op survival en al die dinge wat daarmee saamgaan? ‘n Ou ontwikkel tot ‘n grensgeval op die skaal van panic! Jy worry, wonder en vra vrae wat nie normaalweg by jou opkom nie.

Hoekom nou dit?

Wanneer het ek waar en wat verkeerd gedoen? Het ek iewers iemand te na gekom? Iets verkeerd gese? Is dit iewers in die verre verlede? Wat?! Sal ‘n goeie daad of drie dalk die Guns in my rigting laat swaai, die Skaal na my kant toe laat tip? Wat van bid? Meer, harder, aanhoudend?

Hoekom ekke? Ek is tog ‘n goeie mens, dan nie? Ek probeer hard om oraait te leef, niemand skade aan te doen nie, aan ander goed te doen waar moontlik en… En, ek is immers ‘n predikant! Ek doen God se werk! Hoekom ek?! Ek verdien mos nie dit nie?

En dan wonder ek. Wat van die mense wie se dogtertjie gister in die swembad geval en later in die hopitaal dood is? Of die ouers wat hulle kind ‘n paar honderd meter van hulle huis af dood in die straat aantref ? Of die man wat moet please explain hoekom hy skielik sy werk verloor het, vir g’n skynbare rede nie? Die vrou in Benoni wat deur grasdakwerkers verkrag is, helder oordag?

Hoe voel hulle? Wat gaan hulle deur en hoeveel te meer vra hulle nie wat ek wil weet nie? Hoeveel keer harder skree hulle nie ten hemele nie? Wat het hulle gedoen om dit te verdien?

En al die ander miljoene daar buite?

“Wys jou net hoe diep is die hele verdienste-konsep by mens ingegrawe.” Ja… Is my antwoord.

Laat ons eerlik wees oor hoe ons is, ek en jy. Padlangs, saam.

Ons is goeie mense daarom moet dit met ons goed gaan. As jy sleg is en stront aanjaag sal jy daarvoor betaal; dan verdien jy jou ongeluk, suipgat! Jy kry wat jy verdien- op die ou einde.

Ons dra dit in ons geloofslewe ook in, ek en jy. Ja, glo ons, God het ons gered. Nee genuine, Hy het. Maar…

As ek so na myself kyk en luister, dan besef ek hoe groot hierdie maar eintlik is. Hoeveel keer doen en se ek nie dinge om net seker te maak ek hou Hom tevrede nie? Want se nou net iets gebeur? Miskien, net miskien kan ek seker maak Hy help my uit my penarie, sorg dat dit of dat nie gebeur nie. Sorg dat my geloof en my redding nog okay is, nie? Sorg dat ek kry wat ek verdien…?

Moeilike woord hierdie. Verdien. Ek is seker die Groot Boek se dat ek niks verdien of kan verdien nie. Dat niks regtig van my afhang nie. Niks nie. Dat wat ek het en wie ek is eintlik van die Gewer af kom. Ook my redding. Tog vind ek myself gereeld waar ek op die punt staan om dinge aan te vang of kwyt te raak in ‘n poging (meestal onbewuste poging) om iets by my verlossing te voeg. Om seker te maak ek verdien om gered te word! Net in case, jy weet? In case die Redder nie al die bases cover nie. Mens weet nooit!

Dan het ons die cheek om te se, ons glo. Ja, die Man aan die kruis het alles betaal. Hy het my verlos. Ek is Syne. Bla, bla, bla…

Wys my dade en my woorde en my gedagtes dit? Trust ek genuine die Boek van Beloftes? Die Belofte Self: Jy is Myne, niks sal jou uit my hand ruk nie; Ek is die Lewe… Weet ek dat ek Syne is en dat ek niks verdien of kan verdien nie? En dat dit okay is? Dat al die bases ge-cover is? Dat dit wat Hy gee absoluut verniet is? Dat selfs my vertroue en geloof in Hom ook van Hom af kom? Dat Hy eintlik alles is? Verlosser, Liefde, Vergifnis, Genade, Geloof… dis Hy!

Nee, dit doen nie.

Ek verdien nie dat my vrou alleen in die hospitaal moet wees vir, God alleen weet, hoe lank nie. Ek verdien nie om te worry oor my ongebore lightie en sy groei en gesondheid nie. En…

Ek verdien nie dat die Oor na my ge-moan en groan luister nie. Ek verdien nie dat die Hand na my vrou en kind omsien nie. Ek verdien nie Sy beskerming op my weeklikse Pretoria trip nie. Ek verdien nie die Verlosser, Liefde, Vergifnis, Genade of Geloof nie.

Eintlik behoort ek nie eers hierdie Pad te stap nie, maar ek is gekies. En dis al wat tel…

2 Responses to “Boontjie kry sy loontjie – of nie?”

  1. Magdaleen Says:

    kan dit wees dat party mense se pad te maklik is? Word gebore, leef lekker, ouers het ‘n goeie verhouding, gaan relatief maklik deur die lewe. Teenoor die een wat dit moelik het en vroeg al gekonfronteer word met die realiteite van die lewe. Wie is beter af? of is dit enigsens ‘n kwessie dat hulle teenoor mekaar staan? Is dit moontlik dat Hy elkeen se Pad so gebruik dat dit in Sy PLAN inval. Dat ons nie van mekaar afgunstig moet wees nie want elkeen het sy eie kruis om te dra – party sin lyk net deur ons mense oë asof dit baie lig en mooi is. ‘n Ander gedagte – Hy kies nie ons PAD nie – ons kies dit – Hy belowe dat Hy met ons sal bly reg tot op die einde daarvan

  2. Michelle Says:

    Ek stem saam Magdaleen, God kies nie ons pad nie – ons kies dit self. Hy het die mens die vrye wil gegee om te kies tussen reg en verkeerd, daardie reg het ons ook maar net gekry die dag toe die mensdom vol sonde gemaak is deur die aksies van Adam en Eva in die Paradys. Hy het ‘n grootse plan met elke een en dis ‘n plan vol liefde en vooruitgang. Hy sê tog self in, Jer. 29:11 Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee!

    Hierdie hoopvolle toekoms sluit nie die hartseer wat ons ervaar nie. Ons moet leer om nie altyd te dink dat ons iets verkeerd gedoen het nie, nee, die duiwel loop soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind, verwoes en by wie hy kan steel. Hy wil ons vrede, liefde en vreugde steel. Daarom stuur hy dinge oor ons pad om ons af te gooi van dit wat Abba Vader vir ons bestem het. Daarom is dit belangrik om in en deur die Gees te bid en so die duiwel te verslaan met oorlogvoering. Wanneer ‘n mens begin beveel in gebed en in tale praat, vlug die duiwel in sewe rigtings in! Hy kan nie staande bly wanneer ons die volle wapenrusting van God aantrek en hom stuur waar hy hoort nie! Ons moet hom herinner aan sy toekoms en wat in die verlede by die Kruis gebeur het, hy is verslaan en magteloos gemaak!

    Abba Vader ken ons nog toe ons by Hom was. Hy weet wie en wat Hy gevorm het in ons moeder se skoot. Psalm 139:13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.

    Ons hoef nie moedverloor te wees nie, Hy het die uitkoms reeds gegee nog voor die toets begin het. Paulus het self gesê dat ons nie vrygeskeld word van hierdie dinge wat gebeur op aarde nie, maar eendag, daardie kleurvolle wonderlike eendag waarna ons uitsien met alles in ons wese – die dag wat ons Jesus halfpad in die hemel sal ontmoet en saam Hom weggeruk word na die Paradys! Amen en amen

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.